Verbeel jou 'n wêreld vol klanke wat jy kan hoor maar jy kan nie mense se vreugde sien nie. En by meeste plekke word jou gids nie toegelaat nie al is hy ook jou oë. Verbeel jou 'n wêreld vol vrolike klanke maar vir jou het alles stil geraak. Verbeel jou elke keer as jy met jou rolstoel iewers opdaag, skarrel mense om vir jou ekstra plek te maak en jy moet sit en wag terwyl hulle 'n oplossing vir die uitdaging soek. Verbeel jou jy is 'n mamma of pappa wat eerder tuis bly as om saam met ander gesinne 'n skoolkonsert te geniet, want jou kind se spesiale behoeftes laat ander ongemaklik en verleë voel. Mense met gestremdhede word met 'n rede "persone met gestremdhede" genoem – nie omdat hulle heeltyd vaskyk in hulle spesiale behoeftes nie, maar omdat die wêreld hulle strem om "normaal" te leef. Die Solidariteit Helpende Hand Forum vir Persone met Gestremdhede het besluit om vanjaar hul derde LIG-konsert op 19 September 2024 by die AfriForum teater aan te bied. LIG staan vir Liefde in Gestremdheid, en ons verwelkom graag by hierdie geleentheid persone met gestremdhede as ons eregaste. Ons akkommodeer rolstoele, gidshonde en persone met spesiale behoeftes. Ons gaan ook 'n tolk hê om ons dowe gemeenskap by die aand se verrigtinge in te sluit. Bekende kunstenaars wat die aand gaan optree, is PROP, Sonja Heroldt en Ruan Josh. Sarina Bosman sal die aanbieder wees. Die opbrengs van die aand sal bydra tot die LIG Studiefonds wat voorsiening maak vir 'n gestremde studente om verder te kan studeer. Persone met gestremdhede is ook dié aand ons fakkeldraers van hoop, want as hulle kan, kan ons ook! 17:30 vir 18:00 Volwassene: R150 Kinders 12 jaar en jonger: R80 AfriSkuld LIG-konsert, want die lewe skuld jou niks. As ek kan, kan jy ook!

New Message

Message contents to be displayed here